Gatvol gebraai

Ek’s 'n regte Suid-Afrikaner. As die son Saterdagaand water trek, dan soek ek ‘n houtvuur en ‘n wyntjie. Ek wil braaibroodjies eet terwyl die wors op die kole10 Backyard Braai sis. Ek wil lag en gesels en trane afvee oor sinnelose goedjies en diep sake, terwyl die naguil se roep my geanker aan Afrika hou. Maar deesdae raak ek lugtig. Of dit die drank of die donkerte, vrees of gewoonte is weet ek nie, maar alte dikwels, om ‘n braaivleisvuur, moet ek teen wil en dank luister na die een of ander half-besope rassis, wat met passie sy ondeurdagte opinies oor die regering en sy landgenote lug. Regtig? Hoe is dit oukei?

Ek is soms al skoon benoud as ek my in braaivleisgeselskap bevind. Soms omdat ek nie almal ken nie en wonder wat kom, en ander kere presies omdat ek almal ken en weet wat kom! Dan voel ek soos 'n mot naby 'n kers - maak nie saak waarheen ek probeer fladder nie, dinge gaan warm raak. As meneer (ja, ek is jammer, maar gewoonlik meneer) met sy alkohol-aangevuurde wysheid eers ‘n paar eiers gelê het, voel ek myself vasgevang in ‘n dilemma, op soveel vlakke. Reageer ek? Saggies of kwaai? Nou of later? As ek reageer, wat sê ek wat enigsins sinvol is? Die vorige keer toe ‘n whiskey-asem die geselskap met groot oortuiging meedeel dat hy 'n sekere restourant ondersteun waar ‘n wit vrou sy kos maak en ‘n wit vrou dit vir hom bring, sodat hy nie allerhande goed optel nie, vang my seun my oog vanaf die oorkant van die vuur terwyl ek snak na my asem. 10 waitress flirtingHy kyk nie weg nie, en ek wonder wat hy vir my probeer sê. Hoor jy dit, Mamma? Kan jy dit glo? Gaan jy iets sê? 

Maar ek gaap soos ‘n vis op droë grond, want waar, o waar, begin ek? Die implikasie van wat hy sê is dieper as diep. My logika sê, bly stil. Dis kompleks. Die man weet nie van beter nie. Dis nie die tyd of plek nie. My hart is egter veel minder zen daaroor. Het hy nog nooit in iemand met ‘n donker vel se oë gekyk en ons gedeelde menswees gesien nie? Watse tipe werkgewer is hy? Hoeveel pyn deel hy deur sy dag uit aan mense rondom hom? En dan, natuurlik: hoe de hel het ek saam met hom om ‘n braaivleisvuur beland?! Op die ou end sê ek toe maar niks; ek kyk net rond om te sien of my tjoklit-dogtertjie iets daarvan kon hoor waar sy speel met haar Milky-bar maatjies.

Ek begin regtig glo dat baie braaivleisvure die teelaarde vir rassisme in ons land is. Daar word dinge geopper wat mense nooit by die werk sal sê nie. Dis die plek waar haatlike opinies lugtyd kry en groei. Blatante rasse-haat word oor tjops, brandewyn-en-coke genormaliseer. Onder andere, omdat mense soos ek gaap soos ‘n vis en nie die woorde vind om ‘n alternatiewe waarheid te opper nie. Ter verdediging van my lafhartige self: om ‘n teenvoeter langs ‘n braaivleisvuur te wees, is soos om met Donald Trump te probeer debatteer. Want jy moet weet, die persoon teen wie jy opstaan, het immers ‘n skoot Trumpgeit in hom – vandaar in die eerste plek die haatlike of eksklusiewe neigings wat met selfvertroue rondgegooi word. Maar daar is ‘n hele rits ander verswarende omstandighede langs ‘n braaivleisvuur. 

Een is natuurlik die alkohol. As jou rassis sy glas al vele kere gevul het, is dit ‘n mors van tyd en energie. Hy is mos slim, sterk en reg. En more-oggend gaan hy dit in elk geval nie onthou nie. Maar tog – wat van die ander? Wat van my seun se oë op my? Wat as daar nog gapende visse is wat wag dat iemand opstaan vir menslikheid? Die ander groot uitdaging is dat die tipe ou wat glo die aarde is plat, lees nie wyd nie, luister nie mooi na alle invalshoeke nie, en hou vas aan vervloë maniere van dink. Net so kan rassisme 'n soliede blok sement in iemand se binneste wees, wat met die beste wil in die wêreld nie geroer of bestudeer word nie. Die saak is eenvoudig nie oop vir debat nie. En wil ek regtig my neus nerf-af loop teen 'n growwe stuk klip?

Nou, omdat ek so sukkel om hierdie goed te opper terwyl ek om die vuur sit, laat my toe om my sê in skrif te sê, vir die braaiers en drinkers met hul liefdelose opinies:

10 bad words feb17 08 594486775Nee, dis nie meer oraait om die woord kaffer te gebruik nie. Waar was jy die laaste 30 jaar? Nie in ‘n grap nie, nie in aanhalingstekens in die lug nie, nie met deeglike konteks nie...nooit nie. Ook nie meid, koelie, outa of darkie nie. Moffie, terloops, is ook uit. Hoe wil jy hê dinge in ons land moet ooit beter gaan as jy die mees basiese terme nie kan baasraak nie? Jy is net so 'n groot deel van die probleem, my vriend, as enige van diegene oor wie jy jou mond uitspoel. 

Jy weet nie so baie soos jy dink nie. Hoe eenvoudiger jy dink die oplossings is, hoe meer wys jy jou onkunde. Ek vermoed dat indien jy die kans sou kry om hierdie land te bestuur, jy dit binne twee weke sal opf*k. Ons het uiteindelik iemand in beheer wat waardig, wys, en taktvol is. Cyril Ramaphosa is die een leier wat die verskillende volke binne ons land verstaan. Hy het ekonomiese insig, maar het ook insig vir volkere vir wie verhoudinge belangriker is as ekonomie. 10 cyril and donaldNet iemand wat met geduld en volwassenheid die kontraste kan vashou, kan ons land oor die langer termyn lei. Jy kan nie. Jy het duidelik nie die insig, die liefde, die leierseienskappe, die kennis of ervaring nie. Daar is natuurlik liefdelose, korttermyn, eksklusiewe leiers in die wêreld, waarvan Trump die mees bekende is, maar as jy ‘n burgeroorlog wil hê, neem gerus die leisels. 

Kan ek jou aanraai, jy wat niks anders as swart en wit kan sien nie, om bietjie wyer te kyk en te luister as jou gereelde braaivleisvriende, RSG en die Burger / Beeld / Rapport. Jou bronne skep die illusie dat jy en die wit mense rondom jou, almal saamstem oor wat die probleme in jou land is, terwyl “hulle” almal deel van die probleem is. Sou jy jou horisonne bietjie kon strek, en dalk SAfm luister, of die Business Day lees, sal jy agterkom dat jy en ‘n magdom ander swart Suid-Afrikaners presies dieselfde voel oor die land, oor korrupsie, oor armoede, oor misdaad, werk, en alles wat jy glo blankes se unieke sienings is. Sou jy met swart mense ‘n konneksie kon maak, jy wat in elk geval net skouer skuur met ander kulture as hulle jou arbeiders is, sou jy sien dat ons taal en kultuur verskil, maar ons menswees is een en dieselfde.

Ek en jy het geen idee hoe dit is om oor dekades heen eenvoudig misgekyk te word, verneder te word, en uitgesluit te word nie. Jy weet nie hoe dit is om agterop ‘n bakkie in gietende reën saam met die gereedskap en honde te moet ry nie, al is daar 'n groot sitplek oop – iemand wat dalk ‘n steunpilaar in die gemeenskap, of ‘n ouderling is, iemand wat ook wil hê sy kinders moet trots wees op hom. Jy weet nie hoe alleen dit is om geborg te wees deur ‘n privaatskool, maar nooit na partytjies genooi te word nie en deur almal van alle kante vermy te word nie. As ‘n goedversorgde, jong blanke vrou met ‘n baba langs ‘n verlate pad stap in die hitte van die dag, sal jy twee keer kyk, selfs stop en hulp aanbied. Die swart vrou wat daar stap, ook warm, moeg en smagtend na lafenis, is vir jou so aanvaarbaar en onopvallend soos die bosse langs die pad. 

10 senekal2 1 800x590Senekal vuur die rasse-haat hewig aan. Mense skree en baklei en wroeg oor die brutaliteit van plaasmoorde – alles geldig. Ek hoor egter min heftige argumente teen die brutaliteit van sielemoord oor dekades heen op plase (en elders): arbeiders wat met vuiste en pype geslaan word; oumense wat na ‘n leeftyd van diens afgesit word van die plaas - hul lewenslange huis - sonder ‘n heenkome of ‘n sent; die vernedering op ‘n daaglikse basis van ervare werkers deur jong, arrogante bestuurders of boerseuns wat al die mag het; die pyn wat groei tot haat omdat jou trots en menswees elke dag opnuut vertrap word. "'Hulle' is so wreed," kla 'n vriendin. Is daar regtig 'n wesenlike verskil wat wreedheid betref, tussen jarelange se sistematiese fisiese en emosionele verwonding, en 'n kortstondige wrede moord? Natuurlik verniel nie alle boere en hul gesinne die arbeiders nie, net soos plaasmoorde nie oral gepleeg word nie. Maar ek en jy weet hoe algemeen dit is dat plaasarbeiders met minagting behandel word. Ek hoor min braaiers pleit dat dit NOU moet stop. 

 

Ek vra vir my tuinman op sy verjaarsdag: Hoe vier julle verjaarsdae by die huis? Hy sê: Ons eet vleis. 

Vir jou, vurige hatende braaivleisman, wat elke naweek vleis eet, en meeste dae tussen-in ook, met genoeg geld oor vir jou drankie, vra ek een ding: moenie met my praat oor "hulle" wat jou lewe so moeilik maak nie.

10 township braaiCape Town Township tour vrygrond snoek braai

Want to share this article? Click on one of the icons below: