Wat is in 'n droom

 Iemand vra my nou die dag: Wanneer het jy die eerste keer besef dat jy graag jou eie praktyk wil hê? Hoe lank het jy daaroor gedroom voordat dit ‘n werklikheid geraak het? 

Ek het benoud begin terugdink...laasjaar, vyf jaar, 20 jaar terug. My skokkende slotsom: Ek het nog nooit gedroom van my eie praktyk nie. Die waarheid is: Ek het nooit gedroom nie. 

Die eerste klomp treë op my loopbaan-pad was weghardloop-treë. Ek het my eerste graad gekry met die seker wete dat dit die laaste ding is wat ek wou doen! Gelukkig kon ek wegswenk en het ‘n ander nagraadse rigting gevolg. Weer het ek besef, jaaiks, needankie! En ek koes toe weg na ‘n ander onbeplande rigting. Teen die tyd was ek goed gekwalifiseerd in rigtings waarvoor ek baie min lus was. En so het dit bly gaan – ‘n afdraaipad hier, ‘n uitkoms daar, ‘n nuwe onseker kwalifikasie op my kerfstok. Elke keer, tot baie laat in my loopbaan, het ek teen eerder as vir ‘n sekere werk gekies. 

Die heel skokkendste van alles is die uiteinde van hierdie lukrake, droomlose pad. As ek als moet glo wat die motivering-sprekers en filmsterre verkondig, was daar vir my geen hoop op loopbaan-geluk nie. ‘Everything starts with a dream’; ‘We will only grow as big as we dream’; without dreams we are nothing.’ Sonder ‘n droom was ek dan op pad na nêrens. Want my ou droompies was vir jare lank klein en korttermyn: om die volgende eksamen goed te slaag; om betyds klaar te maak by die werk sodat ek nog later vanmiddag langs die hokkieveld kan staan; om hierdie een persoon voor my te help om ligter te voel; om iemand te help om haar eie huisie te kry; om eerlik te bly leef. En so, sonder dat ek dit ooit vooruit gedroom het, met al die weghardloop van dinge wat ek nie wou doen nie, kyk ek hier op amper 50 na my werk en lewe, en besef ek met verwondering: My lewe is soveel meer as wat my drome ooit kon wees. My beker loop oor. Ek werk met passie aan iets waarvoor ek oor jare lank gereedgemaak is. 

Die aanhalings is verkeerd! Dit is nie net deur ‘n droom of ‘n passie te volg wat mens kan uitkom by ‘n magical werk en lewe wat jou opgewonde maak nie. Weghardloop is ook ‘n pad! As ek nou terugkyk, weet ek dat, in die afwesigheid van ‘n allesomvattende droom, is daar hierdie een ding wat nodig is: Om die volgende treë te gee – al is dit ‘n baie huiwerige een. Of dit weg is van iets wat ver van jou hart af is, en of dit nader na iets is wat jou opgewonde maak, is nie belangrik nie. Al wat belangrik is, is dat jy nie (te lank) bly sit en wonder nie. In watter rigting jy ookal trap, daar wag iets. En daai iets, op die ou einde, IS nader aan jou droom – al het die droom nog geen buitelyne nie. Al is die droom nog net ‘n klein saadjie van energie om aan te hou probeer, te ontdek, weer op te staan.

As ek nou terugkyk, dan kan ek sien hoe die afdraaipaaie my na nuwe insigte gelei het. Wat ek beskou het as weghardloop, het my vaardighede geleer wat ek dalk nie op die hoofpad nodig sou hê nie. Elke mislukking, elke verandering, elke stukkie pyn in my lewe, elke bietjie sukses, elke nuwe hindernis waaroor ek moes kom, alles was heeltyd besig om op mekaar te stapel om die basis te vorm van ‘n loopbaan en lewe waarvoor ek gevorm is. Ek was nie 20 jaar gelede gevorm en gereed vir hierdie loopbaan nie. Ek moes nie toe hierdie droom probeer waar maak nie - daar was nog te veel ervarings waardeur ek moes leef. Ek het nie vanuit my passie gewerk nie; my werk het passie gebring. Elke keer wat ek ‘n nuwe afdraaipad gevat het, weet ek nou, was dit nie ‘n afdraaipad nie. Dit was ‘n bietjie nader aan waar my passie besig was om te groei. En nou werk ek uit my hart, met opgewondenheid en dankbaarheid vir wat ek kan doen. Partykeer wonder ek wat ek as 25-jarige met hierdie droom sou doen? Dis ondenkbaar, want die tyd, plek en omstandighede was so ver van reg af. Wat ek weet, is hierdie was my pad...my perfekte pad, met al die honderde momente wat so ver van reg gevoel het. 

As jy ‘n droom of ‘n passie het, gaan jy seker nie by my kom aanklop vir loopbaan-begeleiding nie. So as jy voor my kom sit, of jy lees hierdie, is dit omdat daar onsekerheid is. Wonderlik! Sekerheid is vas, onbuigbaar, en dikwels blind. Onsekerheid is ‘n wonderlike plek om te begin. So haal diep asem, ontspan, en verwelkom die wankelrige onvastheid onder jou voete. Jy’s op ‘n goeie plek. Jy is presies waar jy moet wees. Jy het ruimte om voel-voel jou eerlike pad te vind, sonder dat jy ‘n groot selfbeeld hoef te vereer. Erken die NIKS in jou lewe. Want dis nie regtig ‘niks’ nie – dis ‘n lewe vol groei, verrassings en passie wat voor jou lê. Al wat jy hoef te doen, is net om die volgende stappie te neem. En daai stappie waardevol te maak. ‘n Lewe van duisende waardevolle stappies, geleef met eerlikheid en wawyd-oop oë vir alles wat kosbaar is, is ‘n passievolle lewe. 

Want to share this article? Click on one of the icons below: